Gedurende die wintermaande, in die binneland en in die Kaap, smag menig een van ons na die sonnige somermaande. Ek het jare gelede ‘n tannie gehad wat in die yskoue Bethlehem in die Vrystaat gewoon het, maar wat elke winter soos ‘n swaeltjie haar tuiste kom maak het in ‘n woonstel teen die Natalse kus. Alhoewel ons nie almal so bevoorreg is om soos swaeltjies rond te trek nie, kan ons darem ‘n manier vind om die winter vir ‘n rukkie te ontsnap na van Suid-Afrika se warmer dele.
Hieronder is vyf dorpe waar die son wel meestal skyn, en waar die dikbaadjies dikwels nooit eers uit die kas kom nie.
Nelspruit/Mbombela
In die hartjie van die Laeveld bly die winter in Mbombela byna ‘n vreemdeling. Terwyl die res van die land onder komberse skuil, klim die dagtemperature hier steeds gemaklik na 22°C, met helder, wolklose luggies en amper geen reën nie. Dis presies hierdie droë, sonnige winters wat Mbombela een van die aangenaamste plekke in die land maak om in Junie, Julie en Augustus te wees.
Die stad is ook die poort na die Kruger Nasionale Park, met die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe reg op die dorp se drumpel, en die pragtige Panoramaroete, Sudwala-grotte en die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin almal binne ry-afstand. Dis nie snaaks dat soveel mense hier vestig nie.
Op die eiendomsfront is Mpumalanga in 2025 die tweede bes presterende provinsie in die land, net agter die Wes-Kaap, met huispryse wat sowat 7% in waarde gegroei het. Weelde-landgoedere soos Shandon en Matumi Golflandgoed trek kopers wat R5 miljoen tot R10 miljoen vir ‘n droomhuis in die bos wil belê, en landgoedere maak intussen al 43% van al die eiendom in die dorp uit. ‘n Mens koop hier nie net ‘n huis nie, jy koop ‘n leefstyl.
Ballito
Ballito se winter is byna ‘n grap, sonnig, droog en gemaklik warm, met dagtemperature wat rondom 23 tot 24°C bly hang. Julie is dan ook die droogste maand van die jaar, met so min as ‘n paar persent kans op reën, presies reg vir strandstappies, walvis-kyk vanaf die kus en ‘n rondte gholf sonder ‘n druppel reën in sig. Die jaarlikse Ballito Pro, die langslopende beroeps-branderplankkompetisie ter wêreld, bring in laat Junie en vroeg Julie boonop nog meer lewe na Willard Beach.
Dis dan ook geen wonder dat Ballito een van die land se warmste eiendomsmarkte is nie, letterlik en figuurlik. Semigrasie vanaf Gauteng is die hoofaandrywer, en die Noordkus-korridor word verwag om in 2026 met sowat 7% tot 10% in waarde te groei, heelwat vinniger as die Durban-gemiddelde. Sowat 41 nuwe gesinne trek elke maand na Ballito en Salt Rock, en die gemiddelde eiendomsprys in die dorp lê reeds bo die R5,7 miljoen merk.
St Lucia
St Lucia se winter is sag en droog, met dae wat steeds tot sowat 24°C styg en nagte wat effens afkoel na 18°C. Dis presies wanneer die dorp sy beste kant wys: die humpback-walvisse trek verby die kus, wildbesigtiging in die iSimangaliso Wetlandpark verbeter soos die plantegroei uitdun, en die klam somerhitte maak plek vir helder, droë luggies.
St Lucia is trouens die enigste dorp in Suid-Afrika wat heeltemal binne ‘n UNESCO Wêrelderfenisgebied geleë is, die iSimangaliso Wetlandpark self. Omdat die dorp letterlik deur die park omring word, is daar min ruimte om uit te brei, wat eiendom hier van nature skaars en dus begeerlik hou. ‘n R4 miljard ontwikkelingsplan is boonop tans by iSimangaliso aan die gang, wat die area se toekomstige aantreklikheid verder kan versterk.
Port St Johns
Aan die Wildekus in die Oos-Kaap is die winter in Port St Johns skaars ‘n winter te noem. Dagtemperature bly steeds gemaklik rondom 19°C tot 21°C, met nagte wat effens afkoel, en Julie is die droogste, sonnigste maand van die jaar. Dit maak Port St Johns ‘n ideale bestemming vir wie die ruige natuurskoon van die Umzimvubu-riviermond, ongerepte strande en die legendariese Wildekus-gasvryheid wil beleef sonder om vas te vries.
Wat eiendom betref, is Port St Johns besig om ‘n stil revolusie te ondergaan. Die dorp is deur die regering se Distriks-Ontwikkelingsmodel geoormerk om Suid-Afrika se volgende kusstad te word, met Transnet wat reeds R7 miljard opsy gesit het vir nuwe hawefasiliteite in die area. Vir wie vroeg instap, bied dit ‘n unieke geleentheid om deel te wees van ‘n ontluikende mark voordat die res van die land dit ontdek.
Mosselbaai en omgewing
Mosselbaai se winter is nie so warm en sonnig soos die vorige vier bestemmings nie, met dagtemperature wat eerder rondom 17°C tot 18°C bly. Maar in vergelyking met die vrieskoue binneland is dit steeds baie matiger, en die dorp spog met sowat 320 sonskyndae per jaar, konstant en aangenaam die hele jaar deur, met min uiterste hitte of koue.
Die dorp is ook al etlike jare lank die Wes-Kaap se topbestemming vir semigrasie, met meer nuwe inwoners as enige ander kusdorp in die provinsie. Mosselbaai is boonop amptelik verklaar as Suid-Afrika se finansieel mees volhoubare munisipaliteit, wat sy gewildheid onder gesinne, aftrekkers en beleggers verder verklaar. Huureiendomme lewer intussen steeds sterk opbrengste van sowat 7% tot 8% per jaar, wat Mosselbaai ook ‘n slim keuse vir beleggers maak, nie net vir wie van die son hou nie.