Bloemfontein: Noorde of Suide?

  • 3 months gelede

Of jy nou met jou neus in die lug loop omdat jy in ’n klein meenthuisie in die Noorde bly, of met jou voete stewig op die aarde in jou “kasteel” in die Suide woon – elke Bloemfonteiner ken die debat: Noorde of Suide?

Die waarheid is natuurlik dat daar nie ’n regte antwoord is nie. Albei het hul unieke karakter, voordele en uitdagings. Albei beskik oor uitstekende skole, goeie privaat hospitale en groot winkelsentrums. Albei het welvarende en minder welvarende gebiede, en albei is die tuiste van mense wat trots is op hul woonbuurte.

Kom ons begin in die Suide.

Fichardtpark

Fichardtpark is die toonbeeld van diep middelklas-Bloemfontein. Dit is veilig, met ’n baie aktiewe buurtwag wat uitstekende werk doen. Goeie skole, ’n privaat hospitaal en verskeie winkelsentrums is alles binne maklike bereik.

Die huise kan egter soms ietwat eenders lyk, en eiendomme naby die snelweg toon gereeld tekens van strukturele krake. Tog bly dit een van die gewildste gesinswoonbuurte in die stad.

Pellissier

Pellissier is ’n pragtige woonbuurt met oor die algemeen nuwer huise as Fichardtpark. Die eiendomme teen Brandkop is dikwels luuks en modern, terwyl die buurt spog met ’n uitstekende laerskool, sterk kerkgemeenskap en goeie toegang tot winkels.

Soos in baie dele van die Suide, kom krake by sommige huise naby die snelweg voor. Hoe nader jy aan die casino beweeg, hoe kleiner raak die erwe en huise dikwels. En dan is daar natuurlik die waterprobleme… ai, daar hoef seker nie veel meer gesê te word nie.

Gelukkig sorg Pellissier Trots dat die woonbuurt netjies en veilig bly.

Generaal de Wet, Hospitaalpark en Fauna

Hierdie woonbuurte bied ’n interessante mengsel van eiendomme. Jy kry indrukwekkende herehuise langs beskeie wonings waar jy dalk nie te lank voor die hek wil vertoef nie.

Maar wat hierdie gebiede kenmerk, is die mense: sout van die aarde. Die woonbuurte is naby goeie skole en winkels, en bied dikwels ruim eiendomme teen pryse wat baie aantreklik is.

Die Noorde

Waverley

Waverley het ’n ouwêreldse sjarme wat moeilik is om te ewenaar. Breë strate met groot bome en indrukwekkende herehuise gee die buurt ’n besondere karakter. Dit is boonop naby uitstekende skole en gewilde winkelsentrums soos Preller Square en Northridge Mall.

Die uitdaging is dat sommige van die “ou geld”-eiendomme oor die jare verwaarloos is en nie altyd die opknapping kry wat hulle verdien nie.

DanPienaar

As daar iets soos die ideale gesinswoonbuurt bestaan, sal baie mense sê dit is Dan Pienaar. Dit merk byna elke blokkie af van wat ’n bo-gemiddelde woonbuurt behoort te wees: ruim erwe, netjiese strate en ’n sterk gemeenskapsgevoel.

Die enigste nadeel? Dit raak al hoe besiger, en sommige huise word geleidelik in besighede omskep.

Heuwelsig

Heuwelsig bied pragtige uitsigte, groot erwe en ruim huise. Dit voel rustig en effens afgesonder, hoewel sommige inwoners vrae oor veiligheid sal opper.

Jy moet dalk ’n entjie ry om by skole of groot winkels uit te kom, maar in Bloemfontein beteken “ver” dikwels net ’n paar ekstra minute in die motor.

Moeilik om te klassifiseer

Langenhovenpark

Langenhovenpark is amper ’n dorp op sy eie. Dit bied winkels, restaurante, dienste en ’n heerlike gemeenskapsgevoel. Baie mense verhuis hierheen en vind min rede om weer uit die buurt te ry.

Die grootste uitdaging is waarskynlik verkeer, veral tydens spitstye. Baie meen dat dit nie dieselfde verskeidenheid top-skole bied as sommige ander dele van die stad nie.

Woodland Hills

Mense wat nie in Woodland Hills woon nie, vertel jou graag van die nadele daarvan. Mense wat daar woon, vertel jou net hoe wonderlik dit is.

Die waarheid lê waarskynlik êrens tussenin. Woodland Hills is ’n uitstekende, veilige landgoed met ’n unieke leefstyl, en om dit jou tuiste te noem is inderdaad ’n voorreg.

Ja, dit is verder van die stad se geriewe af as baie ander woonbuurte. Maar vir baie inwoners is daardie afstand juis die prys wat hulle graag betaal vir die rustigheid, veiligheid en ruimte wat die landgoed bied.

En die wenner?

Die eerlike antwoord is: daar is nie een nie.

Die beste woonbuurt in Bloemfontein is waarskynlik die een waar jy saans veilig kan slaap, waar jou kinders gelukkig grootword en waar jy met trots jou voordeur oopsluit. Vir sommige is dit in die Noorde, vir ander in die Suide, en vir baie dalk iewers tussenin.

Hierdie is natuurlik subjektiewe waarnemings. Elke Bloemfonteiner het sy of haar eie gunsteling, eie stories en eie redes waarom hul buurt die beste is. Voeg gerus jou eie gedagtes by – want as daar een debat is wat seker nooit in die Rosestad opgelos gaan word nie, is dit hierdie een.